Neurochirurg wat druip, opereer 3j. in SA
2012-01-20 09:10
Pretoria – Interne ongerymdhede by die Raad op Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika (RGSA) het glo gehelp dat ’n algemene praktisyn “wettig” as neurochirurg in hospitale gepraktiseer het, sonder dat hy aan registrasievereistes voldoen het.
Die minister van gesondheid het nou opdrag gegee dat die RGSA ’n reuse-oudit doen van alle mediese praktisyns met oorsese kwalifikasies wat die afgelope dekade hier geregistreer het.
Prof. Sam Mokgokong, president van die RGSA, het gister gesê dr. N’yunyi Wambuyi Katumba van die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is in 2007 geregistreer as neurochirurg wat vir die staat kon werk.
Die registrasie is glo goedgekeur sonder dat Katumba se dokumente behoorlik nagegaan is en nadat hy vroeër ’n verpligte plaaslike toelatingseksamen vir spesialiste gedruip het.
Katumba is in Desember verlede jaar gederegistreer, maar het reeds in 2010 danksy sy “uitsonderlike vaardighede” Suid-Afrikaanse burgerskap gekry.
Volgens Mokgokong moes Katumba ná sy registrasie in 2007 drie jaar lank onder toesig in die staat werk.
Binne twee jaar nadat hy by die Steve Biko- Akademiese hospitaal begin werk het, is Katumba afgedank. Volgens Mokgokong was dit weens kommer oor sy vaardighede.
Katumba is na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie en het die saak gewen.
Hy het die derde jaar van sy proeftydperk by die Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Soweto voortgesit en is in Julie 2010 as ’n onafhanklike spesialis geregistreer wat in die private sektor kon werk.
Volgens die RGSA het hy tussen Oktober 2010 en Desember verlede jaar by die Mediclinic Medforum, ’n private hospitaal in Pretoria, gewerk. Mediclinic het gister bevestig Katumba is ná sy deregistrasie daar weg.
Katumba het glo reeds in 2003 aansoek gedoen om as neurochirurg te registreer, maar hy het in 2004 ’n toelatingseksamen vir spesialiste gedruip.
Hy het blykbaar ’n dokterskwalifikasie van die DRK.
Hy het in 2005 probeer om as algemene praktisyn te registreer, maar moes weer ’n plaaslike eksamen skryf. Die RGSA het gesê daar is geen rekord van dié uitslae nie.
Die hoof van intensiewe sorg by Chris Hani-Baragwanath het die RGSA in Augustus verlede jaar versoek om Katumba te ondersoek, glo ook weens kommer oor sy vaardighede.
Die RGSA het toe bevind die dokumente wat deel was van sy 2007-aansoek om as ’n neurochirurg te registreer en wat daarop gedui het dat hy wel ’n toelatingseksamen vir spesialiste deurgekom het, is nooit nagegaan nie.
Minstens twee voormalige RGSA-amptenare word nou ondersoek. Katumba het gister geweier om kommentaar oor die gebeure te lewer.
Altesame 383 praktisyns met oorsese kwalifikasies is die afgelope jaar by die RGSA geregistreer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad