Net span stywer om voortvlugtige Kotzé
2012-01-08 07:43
Johannesburg – Die voortvlugtige Johan Kotzé (50) van Modimolle is tans die mees gesoekte persoon in Suid-Afrika.
Kotzé, wat die polisie sedert Dinsdag ontduik, het glo sy stiefseun, Conrad Bonnette (19), doodgeskiet terwyl ’n vrou in ’n aangrensende kamer geluister het hoe hy om sy lewe smeek.
Sy is deur drie swart werkers verkrag nadat Kotzé hulle glo met ’n vuurwapen gedwing het om dit te doen.
Brig. Hangwani Mulaudzi, Limpopo se polisiewoordvoerder, sê ’n nasionale mensejag is van stapel gestuur om Kotzé – en enigiemand wat hom help om die polisie te ontduik – op te spoor en in hegtenis te neem.
“Polisielede in ál nege provinsies is oor die soektog na Kotzé ingelig. Die Valke en ander eenhede binne die polisie is tans besig om die net rondom hom nouer te span,” sê Mulaudzi.
Hy sê as hulle ’n wenk in ’n sekere provinsie ontvang, word ’n polisietaakspan onmiddellik daarheen gestuur.
Mulaudzi glo vas dat Kotzé vriende het wat hom help, aangesien hy elke keer ’n stap voor hul ondersoek bly.
“Ek kan nie verstaan hoe iemand so iemand sal wil help nie, maar as ons hulle betrap, gaan hulle as medepligtiges aangekla word. Hulle weet mos die polisie is op soek na hom,” sê Mulaudzi.
Volgens Mulaudzi is Kotzé moontlik steeds gewapen en hy hou ’n gevaar vir die publiek in.
“As hy ’n hart gehad het, sou hy homself lankal oorgegee het aan die polisie, maar as hy vasgekeer word en wil baklei, sal ons terugbaklei,” sê Mulaudzi.
Hy sê Kotzé se wit Toyota Fortuner se opsporingstoestel is ná Dinsdag se voorval gedeaktiveer, wat beteken hy is “uitgeslape en intelligent”.
Mulaudzi sê die polisie het geen leidrade oor die identiteit van die drie werkers nie, maar hy sê hulle gaan ook as medepligtiges aangekla word en dan sal die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet besluit of hulle die mans wil vervolg.
Kotzé het Woensdag omstreeks 20:50 Dirk van der Merwe, ’n vriend van die afgelope jaar, van ’n onbekende nommer af gebel om te sê hy het twee keer probeer selfmoord pleeg.
Hy kon dit glo nie doen nie en het gesê hy sal hom die volgende dag (Donderdag) aan die polisie oorgee.
“Hy (Kotzé) het gesê dit is alles haar (die vrou se) skuld en dat hy die seun baie gehaat het. Hy het gesê hy is iewers in Pretoria en hy het ’n selfoon van iemand op straat gekoop,” sê Van der Merwe.
Volgens Van der Merwe was Kotzé en ’n vriendin saam met ’n groep vriende op vakansie in Nelspruit tussen Kersfees en Nuwejaar.
“Hy het heeltyd aangegaan oor die vrou en ons manne het besluit genoeg is genoeg.
“Ons het vir hom gesê ons is gatvol vir sy gekerm en dat hy dinge eens en vir altyd met haar moet uitsorteer,” sê Van der Merwe.
Kotzé het Van der Merwe Dinsdag gebel om te vra dat hy asseblief nie by die huis moet aandoen nie, want hy wil hom die verleentheid spaar om hom weg te wys.
“Ek het dit verstaan en hulle alleen gelos. Ek het nie die vaagste idee gehad wat sou gebeur nie,” sê Van der Merwe.
Volgens ’n inwoner van die dorp is Kotzé glo ’n baie jaloerse persoon.
“Die vrou is met ’n plaaslike man bevriend. Kotzé was bewus van hul vriendskap en het glad nie daarvan gehou nie.
“Hy het hulle verlede Saterdagaand by ’n kroeg dopgehou,” sê die inwoner.
Die vrou sterk tans in ’n plek van veiligheid aan.
Enigiemand met inligting kan kol. Mabisela Mohale kontak by 082 565 8606.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport