Negejarige doodgeskok terwyl hy visvang
2010-10-20 22:07
Durban – ‘n Negejarige seun wat saam met sy vriend in eMagwaveni in Tongaat visgevang het, het hom doodgeskok.
“Die seun en sy vriend het Dinsdag sit en visvang by ‘n klein stroompie toe hy per ongeluk aan ‘n lewendige kragdraad geraak het,” het ao. Mandy Govender, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Govender is daar heelwat kragdrade in die area wat onwettig aangelê is.
“Vyf mense het die afgelope tien weke in die area gesterf weens die kragdrade.”
Die polisie het verlede week verskeie onwettige konneksie verwyder om soortgelyke voorvalle te vermy.
Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA