Nege vas vir R11 milj. se tenderbedrog
2010-12-09 02:00
Johannesburg – Nege mense het Woensdag in die landdroshof in Pretoria verskyn vir beweerde tenderbedrog van meer as R11 miljoen, het die nasionale vervolgingsgesag gesê.
“Hulle staan almal tereg op aanklagte van bedrog, geldwassery, afpersing en oortreding van die wet op openbare finansiële bestuur nadat hulle Dinsdag in hegtenis geneem is,” het woordvoerder Mthunzi Mhaga gesê.
Die beskuldigdes is Mandisa Mokwena, Emilie kinfack Djoumessi, Nancy Ashuma Akinboade, Maria Notshi Phake, Mankwane Daisy Makofane, Buti Baloyi, Bernard Mokwena, Oludele Akinloye Akinboade en Kenny Boshego.
Mokwena is ‘n voormalige adjunk-kommissaris vir die Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID) en het ‘n jaar gelede bedank.
Sommige van die ander is akademici by UNISA.
Die misdade is tussen September 2007 en Mei 2009 gepleeg.
“Daar word beweer dat sommige SAID-amptenare en diensverskaffers saamgewerk het om SAID in sowat 45 transaksies uit ongeveer R11 miljoen te kul.”
Die beskuldigdes is in hegtenis geneem ná ‘n gesamentlike ondersoek deur die SAID teen-korrupsie-eenheid, die polisie en die NVG.
Hulle is almal op borgtog van tussen R10 000 en R30 000 vrygelaat en hul saak is tot 24 Februarie uitgestel vir verdere ondersoeke.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA