Nege seuns vas vir inbraak
2010-02-25 03:00
Bloemfontein – Nege skoolseuns is in die Vrystaat in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n spesiale ondersoek geloods het in voorvalle wat in Wesselsbron plaasgevind het, het die polisie Woensdag gesê.
Die inbrake is aangemeld en die polisie het verlede Vrydag besluit op ‘n gesamentlike veldtog deur verskillende polisie-eenhede in die Wesselsbron-omgewing, het polisie-woordvoerder kapt. Stephan Thakeng gesê.
“Die inligting is opgevolg en nege verdagtes is in hegtenis geneem. Polisie het ook beslag gelê op gesteelde goedere.”
Volgens Thakeng het die seuns, wat tussen die ouderdomme van 16 en 19 is, dieselfde afkorting, “SVK”, op hulle getatoeëer gehad
Die polisie het beslag gelê op rekenaartoerusting, ‘n elektriese ketel en meer as 30 CD’s met ‘n totale beraamde waarde van R12 000.
Twee sake van inbraak by ‘n skool in Wesselsbron sal ook ondersoek word vir ‘n moontlike verbintenis met die gesteelde goedere.
Die seuns het reeds in die landdroshof in Wesselsbron verskyn, maar die saak is Maandag uitgestel vir verdere ondersoek.
Die seuns wat onder 18 is, is vrygelaat en onder hul ouers se toesig gelaat, terwyl die 19-jarige in aanhouding sal bly.
- Sapa