Neem standpunt in teen regering, vra Zille
2011-03-21 12:07
Johannesburg - Mense moet hulle reg om te stem gebruik om 'n standpunt in te neem teen die regering se versuim om mense se basiese regte te erken, het die DA-leier Helen Zille Maandag gesê.
"As mense nie dink die regering gee hierdie regte nie, het hulle 'n reg om hulle uit te stem," het Zille Maandag in 'n toespraak by die Gaphaahla-stadion in Siyabuswa, Mpumalanga, gesê.
"Dit help nie om dieselfde party weer in Mei te verkies en dan weer in Augustus aan 'n protesoptog deel te neem nie... teen daardie tyd sal dit te laat wees."
Zille het gesê burgers moet veg vir hulle reg tot toegang tot basiese dienste soos gesondheidsorg en onderrig, net soos Sharpeville-inwoners 51 jaar gelede gedoen het. Nege-en-sestig mense is op 21 Maart 1960 dood toe die polisie op betogers geskiet het.
"Ons bring ere aan hierdie mans, vroue en kinders. Hulle het die hoogste prys betaal in hulle stryd vir vryheid, gelykheid en waardigheid," het Zille gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA