Natuurramp gevrees ná skip op rotse loop
2011-03-22 07:35
Kaapstad - ’n Natuurramp is besig om in Tristan da Cunha af te speel nadat ’n vragskip daar op die rotse geloop het – waar duisende seevoëls en bedreigde pikkewyne broei.
Die groot Suid-Afrikaanse sleepboot Smit Amandla (voorheen John Ross) het Maandag van die Moederstad in Tristan da Cunha aangekom met Suid-Afrikaanse hulp om honderde oliebesmeerde pikkewyne, wat die bedreigde noordelike geelkuifpikkewyne insluit, te probeer red.
Die Brasiliaanse vragskip Oliva het verlede Woensdag op die noordwestelike punt van Nightingale-eiland (deel van die eilandgroep) op die rotse geloop en begin opbreek.
Die skip was met ’n vrag van 65 266 ton sojabone van Brasilië na die Ooste onderweg, maar dit is sy 1 400 ton brandstof wat nou groot konsternasie in bewaringskringe veroorsaak.
Daar was reeds berigte van oliebesmeerde pikkewyne op die nabygeleë Inaccessible-eiland, ’n natuurreservaat en Ramsar-vleilandgebied.
Sean Burns, administrateur van Tristan da Cunha, het in ’n verklaring gesê: “Dit is ’n aaklige gesig rondom Nightingale-eiland. Van dun lagies olie tot klein balletjies en groter bolle olie dryf in die water en die reuk van diesel hang in die lug.”
Oliebesmeerde geelkuifpikkewyne is reeds verlede week opgemerk deur die fotograaf Kristine Hannon aan boord van die kruiser MS Prince Albert, wat ook die Oliva te hulp gesnel het.
Die 22 bemanningslede het die Oliva ongedeerd verlaat.
Die Smit Amandla was moontlik te laat om te help met enige berging, en al die aandag gaan nou daarop gefokus wees om die seevoëls te probeer red.
Estelle van der Merwe, ’n omgewingskenner van die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls (Sankub) in Milnerton, is aan boord van die Smit Amandla en sal nou die reddingspoging lei.
Altesaam 70% van die bedreigde noordelike geelkuifpikkewynbevolking kom by Tristan da Cunha, sowat 395 km van Gougheiland, waar Suid-Afrika ’n weerstasie het.
Daar is ook ’n span duikers op die Smit Amandla wat die omvang van die skade aan die gestrande skip sal probeer bepaal.
Nege inwoners van Tristan da Cunha is na Nightingdale-eiland gestuur om hulp te verleen.
Nog ’n vrees van die eilandbewoners is dat daar rotte op die gestrande skip kon gewees het. Dit kan ’n ekologiese ramp wees indien van hulle die eilande sou koloniseer.
Daar is reeds valle gestel waar die skip gestrand het om die moontlike verspreiding van rotte te probeer keer.
Die eilande van Tristan da Cunha is baie belangrik in die bewaring van seevoëls. Duisende broei op die eilande. Onder hulle is die bedreigde noordelike geelkuifpikkewyne en albatrosse. Oor die 200 000 van hierdie skaars pikkewyne is tans op die eilande.
Kenners is steeds heeltemal verslae oor hoe die skip op die rotse kon beland het. Die eilandbewoners van die afgeleë Tristan da Cunha oorleef van kreef- en visvang en vrees nou die ergste.
- Die Burger