Nasionalisering sal nie beleid word, sê Zille
2011-08-19 07:00
Kaapstad – Die regering se mislukte benadering tot ekonomiese groei het ruimte geskep vir radikale standpunte soos dié van die ANC-jeugleier, Julius Malema.
Só het die DA-voorsitter, dr. Wilmot James, gister gesê toe hy die party se planne onthul het om ekonomiese groei en werkskepping die kern van sy beleid in aanloop tot die 2014-verkiesing te maak.
Die DA-leier, Helen Zille, het ook gesê sy glo nie daar is werklik ’n kans dat nasionalisering in die nabye toekoms regeringsbeleid sal word nie.
Volgens haar is die oorwig van mag nie ten gunste van nasionalisering nie en daarom is dit nie tans ’n gevaar nie.
“Die probleem met populistiese oplossings is dat dit voorgee om ’n maklike antwoord op ingewikkelde probleme te bied.”
James het gesê hy glo ekonomiese groei is die enigste weg uit armoede en het ’n groeiteiken van 8% gestel.
“Dit is moontlik, maar as ons 6% kry, sal ek steeds tevrede wees.
“Die afgelope dekade is ons ekonomie deur ondoeltreffende rompslomp en sentralisering gestrem en kon dus nie sy volle potensiaal bereik nie. Gevolglik het die beleggingskoers feitlik gaan stilstaan en ons werkloosheidsyfer bly onder die hoogstes ter wêreld,” het James gesê.
“Simplistiese beleidsvoorstelle werk nie,” het Zille gesê. “Dit is nie ’n eenvoudige antwoord op ingewikkelde probleme nie. Daar moet uit die geskiedenis geleer word dat nasionalisering nog nooit, op enige plek, gewerk het nie.”
– volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger