'Nasionalisering nie lewensvatbaar' - Shabangu
2012-02-07 13:25
Kaapstad – Die ANC sal nie myne nasionaliseer nie, aangesien dit nie lewensvatbaar vir Suid-Afrika sal wees nie, het Susan Shabangu, die minister van minerale hulpbronne, Dinsdag gesê.
“Ek verwelkom die feit dat die verslag deur die ANC se taakspan oor nasionalisering die ANC se vroeëre besluite, dat nasionalisering nie ‘n lewensvatbare beleid vir Suid-Afrika is nie, versterk het,” het sy by die mynbou-indaba in Kaapstad gesê.
“Die ANC sal ‘n beleidsposisie oor hierdie kwessie aanneem wat in die beste belang van Suid-Afrika is.”
Shabangu het die mynbousektor blameer dat hy die debat oor nasionalisering geskep het deur nie voorsienings van die mynbou-handves en die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum-hulpbronne (MPRDA) te implementeer nie.
Sy sê dít is as gevolg van, onder andere, die gebruik van front-eienaarskap (“fronting”), waar maatskappy die breëbasis-swartekonomiesebemagtiging (BBBEE)-wet omseil.
Sy het bygevoeg dat die nasionalisering-taakspan se bevindinge nie ‘n verrassing was nie.
“Dit dui op die konsekwente, maar pragmatiese beleid wat die ANC oor baie dekades gelei het, insluitende die tydperk van die aanneem van die vryheidshandves in 1955 en selfs meer onlangs die periode ná 1994.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA