Nasionale ikoon 'verwoes,' sê Oscar se pa
2013-02-18 09:03
Johannesburg – Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se pa, Henke, het gesê die familie is bewus van die realiteit waardeur hulle en hul seun in die gesig gestaar word, berig Times Live.
Henke het ook uitgevaar oor die manier waarop Suid-Afrikaners 'n "nasionale ikoon verwoes".
"Daar is iets fundamenteel verkeerd met ons samelewing. Ons bou mense wat groot uitdagings oorkom op tot helde, net om hulle met groot blydskap af te breek.
"Ek wil dit sê: Ons is realiste, nie gekke nie. Dit gaan nie maklik wees nie, maar Oscar is sterk bo sy jare."
Oscar word daarvan beskuldig dat hy sy vriendin, die model Reeva Steenkamp, verlede Donderdag in sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet het.
Hy het Vrydag vir die eerste keer in verband met die voorval in die hof verskyn en sal na verwagting Dinsdag terugkeer na die hof vir sy borgtogaansoek.
Peet van Zyl, die ster-atleet se agent, het intussen gesê al sy toekomstige wedlope is gekanselleer.
Steenkamp se pa, Barry, het aan Brittanje se Daily Mail gesê hoewel hy geen kwade gevoelens teen Pistorius het nie, sukkel hy om "'n rede te vind hoekom dit met ons lieflike dogter gebeur het".
Die 29-jarige model se woonstelmaat, Gina Myers, het haar as 'n wonderlike mens beskryf.
"Haar geloof in die wêreld, liefde vir almal en alles en positiewe uitkyk is wat baie mense laat leef het. Daar is nie 'n woord wat kan beskryf hoe wonderlik sy was nie. Die energie waarmee sy liefgehad het, of dit in 'n vriendskap of verhouding was, was ongelooflik."
Myers wou egter nie kommentaar lewer oor Steenkamp se verhouding met Pistorius nie.
"Al wat ek soek is antwoorde. Dit is wat almal van ons, insluitend albei families, soek. Ons wil hê die waarheid moet uitkom... almal moet eerlik wees oor wat gebeur het."
– Volg Nuus24 op Twitter