Naidoo verander pleit na skuldig
2011-11-07 15:59
Durban – Die hoëprofiel-verhoor wat met die moord op ‘n Westville-paartjie verband hou, het Maandag ‘n dramatiese wending geneem toe die vermeende meesterbrein agter die moorde, Mathew Naidoo, sy pleit na skuldig verander het.
Dié wending volg op ‘n intense sessie van kruisondervraging deur Roland Parsotham, die regsverteenwoordiger van Naidoo se medebeskuldigde Hardus Lotter, die seun van die vermoorde man en vrou.
Tydens ‘n lang onderbreking het Naidoo (25) met ‘n onafhanklike prokureur wat nie by die moordverhoor betrokke is nie, gekonsulteer.
Toe verrigtinge hervat is, het hy in die getuiebank gesê hy gaan nou skuldig pleit.
“Ek was betrokke by hierdie misdaad... ek wil geheel en al [skuld] beken op hierdie misdaad,” het hy gesê.
Naidoo sal nou in die Westville Korrektiewe Dienste-fasiliteit aangehou word.
Hy het die Durbanse Hooggeregshof gevra of hy van ander gevangenes geïsoleer kan word, aangesien die saak ‘n hoë profiel het.
Regter Shyim Ganda het aan hom gesê hy het geen beheer oor die gevangenes-owerhede nie, maar het gesê hy sal vra dat Naidoo in ‘n veilige plek aangehou word.
Die hof het verdaag om Naidoo se regsverteenwoordiger, Vijay Sivakumoor, toe te laat om ‘n gedetailleerde verklaring van Naidoo te kry, wat in die hof voorgelees sal word.
Naidoo, Hardus Lotter en sy suster, Nicolette Lotter, word daarvan beskuldig dat hulle hul ouers, Maria Magdalena “Riekie” Lotter (52) en haar man, Johannes Petrus Lotter (53), op 19 Julie 2008 vermoor het.
Die Lotters beweer Naidoo was die meesterbrein agter die plan om hul ouers te vermoor, dat hy aan hulle gesê het hy is die derde seun van God en dat God die Lotter-egpaar dood wil hê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA