Naam-twis pootjie SAKP voor verkiesing
2011-03-25 13:21
Johannesburg - Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) in die Noordwes sal dissiplinêre stappe teen die Lebaleng Kommunistiese Party (LCP) neem omdat die LCP na bewering sy naam gesteel het, het die SAKP se leierskap Vrydag gesê.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie is die LCP in die Noordwes as 'n politieke party geregistreer, waar hy aan die plaaslike verkiesings sal deelneem.
"As die SAKP in die Noordwes sal ons seker maak hierdie politieke en organisatoriese kriminaliteit word avsgevat," het Kaizer Mohau 'n woordvoerder van die SAKP, gesê.
"Hoewel ons bewus is van probleme wat spruit uit die manier waarop die ANC die proses hanteer wat tot gevolg gehad het dat 'n paar kandidate in die provinsie wat SAKP-lede of -leiers is van kandidaatslyste verwyder is, dink ons nie die oplossing is om die SAKP te steel nie."
Volgens Mohau het laer strukture in die SAKP nie die reg om namens die party te registreer vir plaaslike verkiesings nie – slegs die party se Sentrale Komitee kan dit doen.
Die Lebaleng-tak van die SAKP, wat as die Lebaleng Kommunistiese Party geregistreer is, sal dus dissiplinêr vervolg word.
"Ons sal hulle selfs hof toe neem as dit nodig is... Die LCP kan nie ons naam so steel nie en hulle moes nooit as 'n politieke party kon registreer nie."
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA