Naalde, testosteroon in Oscar se huis gevind
2013-02-20 12:30
Pretoria – Die polisie het naalde en twee bottels testosteroon in Oscar Pistorius gevind, het ao. Hilton Botha, die hoofondersoekbeampte, Woensdag aan die hof gesê.
Pistorius het Woensdag weer in die hof verskyn vir sy borgtogaansoek.
"Ons het bokse testosteroon, naalde en inspuitings gevind," het Botha gesê.
Botha het gesê daar was bloed op 'n selfoon wat in die huis gevind is en bloedspatsels op 'n krieketkolf.
Gerrie Nel, die staatsaanklaer, het 'n plan van Pistorius se huis aan die hof gewys.
Botha het getuig dat die persoon wat die skote afgevuur het, 1,5 m ver was van die deur van die vertrek waarin Steenkamp was.
Pistorius het weer gehuil terwyl Nel melding gemaak het van sy verklaring.
Die atleet ontken dat hy Steenkamp vermoor het.
Hy het in 'n beëdigde verklaring gesê hy het gedink daar was 'n inbreker in sy huis.
Botha het aan Nel bevestig dat die boonste paneel van die badkamerdeur gebreek was.
"Ons dink nou die kolf is gebruik om die deur oop te breek."
Forensiese en ballistiese toetse moet egter nog afgehandel word.
Botha het later egter gesê dit lyk asof die skote afwaarts geskiet is.
"Vir my lyk dit of die skote afwaarts geskiet is. Ek het dit teen myself gemeet."
Die ondersoekbeampte het vroeër gesê Steenkamp is drie keer deur die badkamerdeur geskiet, met wonde aan haar kop, elmboog en heup.
Volgens 'n getuie het sy tussen 02:00 en 03:00 die oggend van die moord 'n geweldige stryery en kort daarna gille en skote gehoor.
Botha het ook gesê 'n getuie het skote uit die huis gehoor waar Steenkamp gesterf het, toe gille en meer skote.
"Ons het 'n verklaring van 'n getuie wat gesê het hy het skote gehoor en na sy balkon gegaan, en gesien die lig was aan. Hy het toe 'n vrou twee of drie keer hoor skree, en toe meer skote," het Botha volgens AFP gesê.
Botha het gesê die skote is nie direk na die toiletdeur gevuur nie, maar eerder "direk na die toilet en wasbak".
"As jy direk instap en na die deur skiet, sal jy die toilet misskiet," het hy gesê en aangedui dat Pistorius dalk gemik het.
Steenkamp, wat sedert verlede jaar in 'n verhouding was met Pistorius, is kort voor 04:15 dood verklaar.
Pistorius sal ook aangekla word van die onwettige besit van ammunisie nadat ongelisensieerde .38 Special-patrone in sy kluis gevind is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP