Naakfoto van 15-jarige duik op Facebook op
2011-11-21 07:03
Johannesburg – ’n Naakfoto van ’n 15-jarige meisie van Meyerton is op ’n slinkse wyse op Facebook gelaai en versprei.
Die meisie het die foto self in Oktober verlede jaar met haar selfoon geneem, waarna haar foon glo by die skool gesteel is.
Volgens haar is die foto op Facebook geplaas deurdat die kwaaddoeners ingebreek het op haar ou rekening, wat onaktief was.
Die profielfoto is deur die naakfoto vervang en die wagwoord is verander. ’n Skoolvriend het haar daarvan vertel.
“Ek het geskrik toe ek dit hoor en was hartseer en kwaad toe ek die foto op Facebook sien...ek en my niggie het die foto net vir die pret geneem op my verjaarsdag verlede jaar. Ons was verveeld. Ek sal nooit weer sulke foto’s neem nie. Ek voel verneder,” het die meisie gesê.
Die meisie kon die foto nie van haar profiel afhaal nie.
“Die foto was die aand van 1 November op en is toe afgehaal. Dit is die volgende middag weer opgesit en toe weer af gehaal.”
Die foto is glo onder leerlinge van die Hoërskool Dr. Malan, waar sy skoolgaan, versprei.
Volgens die ma het sy die voorval by die polisie gaan aanmeld.
“Die foto was nie meer op Facebook nie; daar was geen bewyse nie. Die polisie kon niks doen nie.”
Verskeie mense het snedige aanmerkings oor die foto gemaak, soos: ‘Koop vir (die meisie) ’n skeermes én trek tog klere aan...' ” het haar ma gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld