NVG ondersoek 'Winnie-saak'
2012-12-19 09:34
Johannesburg – Die Nasionale vervolgingsgesag (NVG) het met 'n ondersoek na die verdwyning van twee mans begin, wat na bewering die laaste keer saam met die eksvrou van oudpres. Nelson Mandela, Winnie Madikizela-Mandela, gesien is.
'n Woordvoerder vir die NVG, Makhosini Nkosi, het Dinsdag gesê hulle het "onlangs nuwe inligting bekom" oor Lolo Sono en Siboniso Shabalala, wat in 1988 vermis geraak het.
Hy het gesê begraafplekke word gesoek om die twee se oorskot te vind, maar kon nie berigte bevestig dat die saak met Madikizela-Mandela verbind word nie.
"Die ondersoek is steeds aan die gang...Geen presiese begraafplekke is nog bevestig of opgegrawe nie," het hy in 'n verklaring gesê.
Associated Press het berig dat die twee mans in November 1988 laas by Madikizela-Mandela se huis in Soweto gesien is.
Madikizela-Mandela is in 1991 skuldig bevind op aanklagte van die ontvoering en moord op Stompie Seipei.
Seipei is destyds beskuldig dat hy ’n spioen vir die apartheidsregering was.
Hy is ontvoer, na bewering na Madikizela-Mandela se huis geneem, gemartel en toe doodgemaak
Madikizela-Mandela is aanvanklik tot ses jaar tronkstraf gevonnis, maar het appél aangeteken en eindelik net 'n boete betaal.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA