NUM verdeeld oor Implats-aanbod
2009-08-25 09:02
Johannesburg – Suid-Afrika se grootste vakbond, NUM, sê mynwerkers van Impala Platinum (Implats) is verdeeld oor of hulle ’n beter salarisaanbod van mynbase moet aanvaar of nie.
As mynwerkers dié aanbod aanvaar kan ’n staking afgelas word.
NUM het sê hy verwag uitslae van al sy takke Dinsdag en het nie aangedui hoeveel mense dié aanbod verwerp het nie.
Suid-Afrika produseer vier vyfdes van die wêreld se platinum.
’n Staking by Implats, die wêreld se nommer twee platinumvervaardiger, kan die pryse van dié kosbare metaal die hoogte in laat skiet.
Implats se jongste aanbod sluit ’n eenjaar salarisooreenkoms met ’n 10% verhoging vir al die werkers in, maar Eddie Majadibodu van NUM sê vir sommige is dit net nie genoeg nie.
“Daar is takke wat die aanbod verwerp het. Ons weet nog nie hoeveel nie omdat die verslae nog nie saamgestel is nie,” het Majadibodu aan Reuters gesê.
Die vakbond het Sondag ’n staking by die Implats-myn afgelas na 'n vergadering met mynbase.
Majadibodu het gesê sommige werkers kan dalk kies om te staak om ’n beter aanbod te eis.
Die vakbond sal Woensdag met Implats vergader om die dispuut oor salarisse te bespreek.
NUM het sowat 18 000 lede by Implats en die maatskappy sê produksie by dié myn kan lamgelê word as die staking voortgaan.
– Sapa