NUM positief oor samesprekings
2009-07-14 11:05
Johannesburg - Die National Union of Mineworkers (NUM) is "optimisties" oor Dinsdag se samesprekings oor die beëindiging van die stakings in die boubedryf.
Mnr. Lesiba Seshoka, woorvoerder van NUM, het aan Sapa gesê dat die partye "baie naby" is om 'n ooreenkoms te bereik.
"Die bal is in die werkgewer se hande en as hulle saamspeel sal ons tot 'n ooreenkoms kan kom; ons sal teken," het Seshoka gesê.
Volgens Seshoka het werkers Dinsdag steeds by die Stadions byeengekom, aangesien hulle steeds gestaak het.
"Solank hulle nie tot 'n ooreenkoms kan kom nie sal die staking voortduur."
"Ons werkers sê egter indien daar oor sekere vereistes ooreengekom kan word by Dinsdag se samesprekings, sal hulle die ooreenkoms onderteken wil hê."
Die NUM, die Suid-Afrikaanse federasie van siviele-ingenieurskontrakteurs (Safcec) en die Building Construction and Allied Workers' Union (Bcawu) sal Dinsdag om 10:00 vir verdere samesprekings ontmoet.
Die staking, wat verlede Woensdag begin het, het talle bouprojekte oor Suid-Afrika geraak.
Die NUM het aanvanklik 'n loonverhoging van 13% gevra en die werkgewer het 10.4% aangebied.
Safcec het nou sy aanbod verhoog na 11.5%
- Sapa