NUM gekant teen onwettige betogings
2013-02-05 15:23
Rustenburg – Die National Union of Mineworkers (NUM) is teen geweld en onwettige betogings gekant, het Senzeni Zokwana, president van die vakbond, Dinsdag aan die Farlam-ondersoekkommissie gesê.
"Ons posisie as NUM is konsekwent. NUM is teen geweld. NUM is teen onwettige stakings,” het hy in Rustenburg getuig.
Zokwana het gereageer op ‘n vraag van die advokaat vir die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu), Heidi Barnes.
Sy het gevra of die NUM tussen 12 en 15 Augustus 2012 enige verklarings uitgereik het wat die geweld wat by Lonmin se Marikana-myn uitgebreek het, veroordeel het.
Tien mense, insluitend twee polisiebeamptes en twee sekerheidswagte, is in daardie tyd doodgemaak.
Op 16 Augustus is 34 mynwerkers doodgeskiet en 78 gewond toe die polisie op hulle losgebrand het terwyl hulle ‘n groep stakende betogers naby die myn probeer verjaag het.
Die kommissie ondersoek die dood van die 44 mense wat tydens die staking by Lonmin se platinummyn in die Noordwes dood is.
Zokwana sê hy het die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris op 12 Augustus gebel om te vra vir meer polisieversterkings by die myn ná die dood van twee sekerheidswagte.
Hy sê hy het nie ’n bevredigende antwoord gekry nie en het Nathi Mthethwa, die polisieminister, se kantoor gebel.
“Sy kantoornommer is vir my gegee en ek het ‘n boodskap gelos en hy het teruggekom na my. Ek het genoeg inligting vir hom gegee sodat hy ‘n besluit kan maak.”
Hy sê hy het die minister vertrou om die nodige stappe te neem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA