NG Kerk: Huwelik is hier om te bly
2009-12-13 11:34
Die tyd is nog nie heeltemal ryp om die dominee oor jou saamwoonplanne in te lig nie.
Te midde van ’n heftige gesprek in die NG Kerk oor die huwelik en saamwoon, het die kerkleierskap die naweek bevestig die kerk se tradisionele beleid oor die huwelik staan nog stewig.
Rapport en Kerkbode, die NG Kerk se lyfblad, het twee weke gelede berig die NG Kerk se taakspan vir leer en aktuele sake (Atlas) beoog om ’n voorstelbeleid op te stel waarin opnuut besin word oor hoe presies die kerk die huwelik verstaan. Die taakspan wil ook besin oor of daar ruimte gemaak kan word vir sommige vorme van wat tradisioneel as saamwoon verstaan is (spesifiek monogame paartjies wat later wetlik wil trou of ouer mense wat om geldelike redes nie ’n wetlike huwelik kan aangaan nie).
Sedertdien het predikante landwyd laat weet hulle moet bontstaan om gemeentelede se vrae oor die aangeleentheid te beantwoord. Vrydag het sowel die algemene moderatuur as een streeks-moderatuur (Wes- en Suid-Kaapland) verklarings uitgereik om te sê die huwelik is hier om te bly en sal beslis nie in gedrang kom nie.
Hoewel Atlas vroeg volgende jaar ’n voorstelbeleid wil voorlê, sal dit volgens die algemene moderatuur nie geldig kan wees voordat die volgende algemene sinode in Oktober 2011 daaroor be-sin het nie.
Die moderatuur het benadruk hulle staan by die standpunt dat “slegs die liefdesverbintenis tussen een man en een vrou wat volgens kerklike en wetlike voorskrifte in ’n huwelik bevestig is, uitdrukking gee aan die NG Kerk se siening van ’n huwelik?… Saamwoon is nie ’n alternatief vir die huwelik nie.”
Die moderatuur gee egter toe dat baie mense vrae het en dat die komende studiestuk aandag aan dié vrae wil gee.
“So is daar ’n vraag by sommige of die erkenning van beide die staat en kerk by huweliksluiting nodig is. Daarby wil sommige weet of die vaste oortuiging dat hulle later gaan trou, nie aan paartjies die reg gee om voorlopig saam te woon nie. Of dat ’n gesamentlike belofte van trou voor God en sonder getuies uit die kerk of staat, nie ook huweliksluiting kan beteken nie. Sommige pensioenarisse wat wil trou, word gekonfronteer met die feit dat een van die partye bepaalde pensioenvoordele kan verloor wanneer ’n huwelik gesluit word: wat nou?”
Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, het aan Rapportgesê: “Ons wil dit duidelik maak ons gaan nie enigiets sê wat die huwelik aantas nie. Dit gaan hier net oor party mense wat in problematiese situasies sit. Ons gaan beslis nie promiskuïteit goedpraat nie.”
Volgens Gerber vloei die huidige gesprek voort uit ’n gesprek wat al lank in die kerk gevoer word. Op die vorige algemene sinode het die kerk ’n opdrag gegee dat hieroor besin moet word.
- Rapport
Vir meer hieroor, besoek Rapport.