NBU-ystervrou sluit aan by DA
2011-01-16 11:06
Johannesburg - Die voorslag-vrou van Sannieshof wat saam met haar gemeenskap dienste begin verskaf het toe die munisipaliteit in duie gestort het, het die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU) verlaat en by die DA aangesluit.
Carin Visser, wie se betrokkenheid by die verantwoordelike weerhouding en aanwending van belastingbetalersgeld vir die instandhouding van wanbestuurde munisipale dienste landwyd bekend is, gaan haar as DA-kandidaat vir die Tswaing-munisipaliteit in Noordwes, wat Sannieshof insluit, verkiesbaar stel.
Sy het die aankondiging gedoen in die teenwoordigheid van die speaker van die Kaapse stadsraad, Dirk Smit, wat gesê het Visser sal aan dieselfde streng kies- en keuringsproses as alle ander voornemende DA-kandidate onderwerp word.
Visser se aankondiging kom in ’n tyd van groeiende verdeeldheid in die NBU oor deelname aan vanjaar se munisipale verkiesings.
Die NBU-voorsitter, Jaap Kelder, het die laaste paar weke skerp teen die DA uitgevaar en sy steun nou toegesê aan twee kleiner partye, Irasa van die Oos-Rand en die VIP van Tulbagh. Sommige NBU-lede steun sy standpunt, maar ander wys uit dit kan die DA as opposisie teen die ANC verswak.
Smit het uitgewys dat DA-raadslede juis aangemoedig word om aan belastingbetalersverenigings en ander gemeenskapsorganisasies te behoort en dat daardie organisasies welkom is om die DA as kommunikasiekanaal na die stadsraad te gebruik.
Visser het gesê sy het besluit om by die DA aan te sluit omdat die stem teen die ANC, veral op die platteland, nie versplinter durf word nie. Die besluit is Maandagaand eenparig deur die bestuur van Sibu (Sannieshof se inwonersvereniging) ondersteun, gegrond op die DA se munisipale bestuursrekord in Kaapstad en elders.
“Die DA was deurgaans die party met die kundigheid en gewilligheid om ons by te staan wanneer ons dit nodig gehad het. Daar is geen sin in om as onafhanklike te staan nie, want ’n mens het die steun op distriks- en provinsiale vlak nodig om ’n verskil in jou dorp te maak,” volgens Visser.
“Suid-Afrika kan nie verdere verdeeldheid bekostig deur ’n gefragmenteerde opposisie nie. Elke plattelandse dorp is tans in ’n oorlewingstryd vasgevang wat met intellektuele vermoë en die saamstaan van groot groepe mense in elke gemeenskap oorwin sal word.
“Ons mis die punt wanneer ons versetwekkend en onverdraagsaam teenoor mekaar optree. Ons moet weerstand bied teen die korrupsie in die ANC-regering, maar terselfdertyd met goeie kommunikasie ons munisipaliteite laat werk,” het sy gesê.
In haar bedankingsbrief uit die NBU het sy NBU-lede, van wie verskeie afgetredenes met uitgebreide kennis is, uit die hart bedank vir die hulp toe Sibu die dorpsbestuur oorgeneem het met die ineenstorting van die Tswaing-munisipaliteit.
Die verwagting is dat Visser se bedanking in die volgende week taamlike reaksie in die NBU sal ontlok, met ’n sterker aanduiding van wie vir en wie teen die DA kant kies.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport