N1 steeds gesluit ná staking
2013-01-11 14:06
Johannesburg – Die polisie was teen Vrydagmiddag steeds op die N1 by De Doorns teenwoordig voor onderhandelinge tussen boere en vakbonde begin, ná gewelddadige stakings die gebied vroeër die week geruk het.
Die nasionale pad, wat steeds vir verkeer gesluit is, was rustig.
Klippe, glas en rubberkoeëlhouers het op die pad gelê ná die polisie en stakers vroeër die week slaags geraak het.
Individuele boere en vakbonde sal na verwagting Vrydagmiddag weer naby die dorp met onderhandelinge begin.
Die Cape Orchards-groep, wat 12 plase in De Doorns verteenwoordig, het ingestem om met Cosatu en ander vakbonde te onderhandel.
"Hierdie onderhandelinge is apart van die gesprekke wat ons met Agri SA het," het Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu, gesê.
"[Die ooreenkoms] waaroor ons hier praat is 'n ooreenkoms met tafeldruiweboere en sekere verwante groepe..." het hy gesê.
Werkers het laat verlede jaar begin staak, en geëis dat hul lone van R69 na R150 verhoog word. Twee mense is in gewelddadige stakings wat van 27 Augustus tot 4 Desember plaasgevind het, dood.
Die staking is daarna afgelas, maar is Woensdag hervat.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA