Mynwese kan Mapungubwe bedreig
2010-02-19 13:50
Kaapstad – Volgens die departement van water en omgewingsake, is Buyelwa Sonjica, die minister van dié departement, "bekommerd" oor onlangse mediaberigte wat sê dat Coal of Africa nuwe mynregte naby Mapungubwe in Limpopo toegeken is.
Dié mynmaatskappy is van Australiese herkoms.
Die minister is glo bekommerd dat Mapungubwe, wat een van die sewe wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika is, negatief geraak kan word deur hierdie nuwe ontwikkeling.
Mapungubwe het al internasionale status ontvang, en is ook ‘n simbool van die hoogste eer in die land wat toegeken word deur die president vir prestasies in die internasionale omgewing wat in Suid-Afrika se belange gedeel het.
Die Orde van Mapungubwe is die hoogste eer in die land wat deur die president toegeken word aan mense wat Suid-Afrika se belange in die buiteland bevorder. Die orde het vier klasse en is al toegeken aan die voormalige presidente Nelson Mandela en FW de Klerk, sowel as aan 23 ander mense vir hul uitstaande prestasies.
Die Mapungubwe Nasionale Park is sowat sewe kilometer wes van die area wat nou aangewys is vir die beoogde mynbou.