Myne nié genasionaliseer
2010-03-05 07:30
Leopold Scholtz
Den Haag - Pres. Jacob Zuma het Donderdag, met die internasionale kollig op hom, die versekering gegee die nasionalisering van myne is nie op die Suid-Afrikaanse regering se agenda nie.
Hy het op die derde dag van sy eerste staatsbesoek aan Brittanje in ’n toespraak aan Britse parlementslede die eerste keer prontuit gesê die nasionalisering van myne word nie deur die regering oorweeg nie.
Dít kom nadat die ANC-Jeugligaleier, Julius Malema, herhaaldelik die nasionalisering van myne bepleit het.
“Laat my van hierdie geleentheid gebruik maak om te bevestig dat Suid-Afrikaanse wetgewing nié voorsiening maak vir die nasionalisering van myne nie en dat daar geen bespreking in regeringskringe daaroor is nie,” het Zuma Donderdag benadruk.
Hy het Britte wat die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika wil bywoon, ook die versekering gegee dat hulle veilig sal wees.
Op ’n dag waarop hy nie daarin kon slaag om die Britse eerste minister, Gordon Brown, te oortuig om sanksies teen Zimbabwe te laat vaar nie, moes hy voortgesette beledigings van die Britse pers verduur.
Ofskoon aan die oppervlak slegs glimlagte en beleefdheid gesien is, was dit aan die onderkant duidelik dat Zuma en die Britte nie veel ooghare vir mekaar het nie.
Enersyds moes Zuma voor dieselfde joernaliste wat hy aan die vooraand van sy besoek van kulturele arrogansie beskuldig het, terugkrabbel.
Andersyds het sommige van hulle voortgegaan om hom erg te beledig.
Nadat hy samesprekings met Brown in 10 Downing Street gehou het, het Zuma op ’n nuuskonferensie gesê sy uitbarsting teen die Britse media voor sy aankoms is “buite konteks” aangehaal.
“Dit was in die konteks van hoe mense ander mense se kulture beoordeel en wie hulle die reg gee om ander te beoordeel.”
Hy het gesê hy het nie slegs oor die Britse media gepraat nie, maar ook oor die Suid-Afrikaanse media. Hy het nie noodwendig bedoel om die Britte te veroordeel nie.
Hy en sy afvaardiging het ’n “baie warm ontvangs” geniet.
Maar ’n veteraan-joernalis van die Daily Telegraph, Con Coughlin, die skrywer van verskeie hoog aangeskrewe boeke oor die Midde-Ooste, het opnuut ’n klipharde belediging na die Suid-Afrikaanse president geslinger.
“Sowat die enigste goeie ding van Zuma se staatsbesoek aan Brittanje is dat hy lesse kan leer oor hoe om homself in die openbaar te gedra,” het Coughlin in ’n artikel getiteld “Die koningin gee Zuma ’n les in etiket” geskryf.
“Presies waarom die Arbeider-regering gedink het dis ’n goeie idee om ’n uitnodiging te rig aan dié legendariese rondslaper wat daarvan hou om op ’n verhoog in stamdrag te bokspring terwyl hy ’n masjiengeweer rondswaai, is ietwat van ’n misterie.”
Hy skryf noudat Zuma blootgestel is aan die “briljante prag en praal” wat Brittanje vir besoekende staatshoofde bied, asook “die stille waardigheid waarmee die koningin by sulke geleenthede optree”, hoop hy Zuma het iets gekry om oor na te dink.
“Pres. Zuma is per slot van rekening die staatshoof van ’n land met ’n ryk en trotse verlede, iets wat in die waardigheid van sy amp weerspieël behoort te word.”
Die Daily Mail, wat Zuma as ’n “seks-geobsesseerde dweper” bestempel het, het hom Donderdag wéér beledig.
Zuma se uitbarsting “het sy raadgewers se pogings om hom die fyner puntjies van koninklike etiket te leer”, vernietig, het die koerant berig.