Munisipaliteite sou verbruikerswet vryspring
2011-03-25 15:57
Die ANC wou oorspronklik alle munisipaliteite vrystel van 'n omvattende wet wat ondernemings dwing om te alle tye redelik en eerlik met verbruikers om te gaan, het die VF Plus in 'n verklaring beweer.
Die Wet op Verbruikersbeskerming 68 van 2008 beskerm verbruikers teen onder andere uitbuiting, maar volgens 'n regeringskennisgewing wat uitgereik is deur die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, het die minister van samewerkende regering aanvanklik versoek dat alle munisipaliteite tydelik vrygestel moes word van die wet, aldus die VF Plus.
“Dit is skokkend en dui daarop dat die ANC by alle munisipale owerhede hulle swak dienslewering wou wegsteek en weerhou van die jurisdiksie van die Verbruikerskommissie,” het 'n verklaring deur adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid, gelui.
“Dit is nou duidelik soos daglig dat die ANC baie bekommerd is oor die impak wat die vloedgolf van klagtes gaan hê op die komende verkiesing.”
Ingevolge artikel 2(3)(b)(i) van die Wet mag slegs medium- en lae-vermoë-munisipaliteite vir die nakoming van dié wet uitstel kry. Dit beteken dat hoë-vermoë munisipaliteite steeds aan die vereistes van die wet sal moet voldoen.
Die bedoeling is egter nie om munisipaliteite permanent van die wet vry te stel nie, maar om dit in 'n latere stadium op alle munisipaliteite van toepassing te maak.
“Ons glo dat die ANC die Wet van toepassing sal maak eers iewers ná die plaaslike regeringsverkiesing afgehandel is,” het Alberts gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24