Munisipaliteit vasgevat oor wanbestuur
2013-01-17 15:34
Kaapstad – Die DA het die nasionale tesourie se besluit om fondse van die Nala-munisipaliteit in die Vrystaat terug te hou, verwelkom.
Die tesourie het besluit om die oordrag van fondse na die munisipaliteit te staak ná vier jaar van finansiële wanbestuur, soos uitgewys deur die ouditeur-generaal (OG).
“Dit is die eerste keer wat so ‘n ingryping plaasvind,” het David Ross, woordvoerder van die DA, gesê.
Afdeling 216(2) van die grondwet sê die nasionale tesourie “mag die oordrag van fondse na ‘n staatsorgaan staak as daardie staatsorgaan hom aan ‘n ernstige of aanhoudende materiële oortreding van daardie maatstawwe skuldig maak”.
Die OG het in 2008 ernstige probleme in die Nala-munisipaliteit geïdentifiseer. Dit sluit in wanadministrasie, verontagsaming van tenderprosedures, korrupsie en bedrog.
Die munisipaliteit het ook nie ouditverslae en finansiële verslae vir 2009/10 en 2010/11 ingedien nie. Hy het verder ook versuim om vorderingsverslae, soos vereis deur die Bestuur van Munisipale Finansies (MFMA) te voltooi, het Ross gesê.
Geen van die OG se voorstelle is geïmplementeer nie en niemand is ooit verantwoordbaar gehou nie.
“Die ingryping van die nasionale tesourie is die eerste van sy soort en stel ‘n welkome presedent. Die DA is tevrede dat die minister van finansies, Pravin Gordhan, ‘n dapper stap geneem het deur die ingryping goed te keur. Dit stuur ‘n duidelike boodskap aan openbare entiteite dat korrupsie... nie verdra sal word nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA