Munisipale stakings in volle vaart
2009-07-27 12:01
Durban – Die meerderheid van KwaZulu-Natal se munisipale werkers het nie Maandagoggend vir werk opgedaag nie, het die Suid-Afrikaanse werkersunie (Samwu) gesê.
“Ons kry terugvoer van verskeie munisipaliteite in die provinsie. In die Umgungundlovu-distrik het die meerderheid van die tien munisipaliteite nie werk toe gegaan nie,” het Jaycee Ncanana, die provinsiale sekretaris van Samwu, gesê.
Lede van Samwu en die Independent Municipal and Allied Trade Union (Imatu) het die owerhede se 11.5% loonverhoging aanbod verwerp en Maandag met stakings begin.
Teen 9:30 was nog geen stakende munisipale werkers in Durban se middestad te sien nie.
Honderde stakers het die verkeer in Pretoria se middestad tot stilstand gebring toe lede van Samwu met rooi vakbond t-hemde al singend met plakkate na die munisipale kantoor gestap het.
Duisende werkers het in Johannesburg se middestad bymekaargekom om aan die staking deel te neem.
Die SAPD het aangedui dat hulle by die stakings teenwoordig is.
- Sapa