Munisipale stakings: Verwag geweld
2009-07-27 07:38
Marelize Barnard
Kaapstad - Grootskaalse geweld en ’n chaos word verwag met die stakings deur sowat 150 000 munisipale werkers wat vandag landwyd begin en dienste kan lamlê.
In die Wes-Kaap is die polisie gereed vir goedgekeurde én onwettige optogte, nadat inligting hieroor ontvang is.
Sr. supt. Billy Jones, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê lede van alle stasiewyke van die polisie en die misdaadbekampingseenheid is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas. Die Kaapse middestad, Bellville en die hoofweë is volgens hom van die gebiede waar die publiek ontwrigting kan verwag.
In die omgewing van Kaapstad word daar vandag en Woensdag groot optogte deur duisende lede van die munisipale vakverbonde Samwu en Imatu gehou. Dié vakverbonde verteenwoordig landwyd sowat 90% van die munisipale werkers.
Die stakings begin vandag nadat deurnagonderhandelings Vrydag tussen die vakbonde en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Owerhede (Salga) nie tot eenstemmigheid kon lei om griewe op te los nie. Onderhandelings gaan Donderdag voort.
“Verstaan ook die werkers is kwaad vir hul werkgewer,” was die provinsiale sekretaris van Samwu, André Adams, se bedekte waarskuwing.
“Dit hang ook af hoe die werk- gewer en die polisie die betogers gaan behandel,” het hy gesê oor die vrese vir grootskaalse geweld en skade aan munisipale eiendom.
Die Kaapse stadsraad het die publiek versoek om wandade, soos die beskadiging van eiendom deur stakende munisipale werkers, by 021 596 1999 aan te meld.
Tussen 6000 en 7000 stakende amptenare kom vanoggend omstreeks 08:30 by die Bellville-stasie byeen vir ’n optog in Durbanweg na die Salga-kantoor waar ’n memorandum oorhandig sal word.
Adams het bevestig optogte word ook by verskeie munisipaliteite in die Boland en aan die Wes- en Suidkus beplan. Woensdag word ’n optog na die Kaapstadse burgersentrum beplan om ’n memorandum aan die burgemeester, Dan Plato, te oorhandig.
Plato het gister by die werkers gepleit: “Asseblief, moenie gewelddadig raak nie. Moenie goed omgooi en vullis oral rondgooi nie. Dit is nie nodig nie.” Hy het gesê die stadsraad erken, soos die Grondwet, die vakbonde en werkers se reg om te staak, maar soortgelyke stakings het in die verlede “lelik ontaard”.
Mogomotsi Mogodiri, Salga-woordvoerder, het gesê daar gaan voorstelle oor die loonooreenkoms aan die vakbondlede gemaak word, waarna hulle Donderdag na die onderhandelingstafel sal terugkeer.
Die Kaapse stadsraad het spesiale planne om vullis te verwyder en inwoners is gevra om geduldig te wees omdat dienste soos die vee van strate, vullisverwydering en die skoonmaak van onwettige vullisstortings ontwrig kan word.
Die Burger