Munisipale staking verby
2009-07-30 21:29
Johannesburg – Munisipale werkers het ‘n loonaanbod aanvaar en ‘n einde gebring aan ‘n vierdaelange landswye staking.
Imatu-leier Johan Koen het Donderdagaand gesê dat die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Owerhede (Salga) se nuwe aanbod “aanvaarbaar” was.
Volgens Koen het Salga hul aanbod aangepas na wat neerkom op ‘n 13% loonverhoging.
‘n Driejaarlange ooreenkoms sou Vrydag 13:00 gesluit word.
Die ooreenkoms sal beteken dat werkers vanaf 1 Julie ‘n 10.5% algemene verhoging kry sowel as ‘n 2.5% nie-pensioengewende inkomsteverhoging.
Die 2.5% sal eers in Julie volgende jaar pensioengewend word.
Al die werkers behoort teen Maandag terug te wees op hul poste, het Koen gesê.
Reuters het egter berig dat Mthandeki Nhlapo, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse werkersunie (Samwu), Donderdagaand gesê het dat, alhoewel die vakbonde vooruitgang gemaak, geen ooreenkoms nog bereik is nie.
Nhlapo het gesê die staking sal Vrydag voortgaan.
- Finance24