Munisipale staking duur voort
2009-07-28 10:17
Johannesburg – Landswye munisipale stakings en optogte duur vandag voort.
Munisipale werkers in Johannesburg sal ‘n optog na die kantore van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Owerhede (Salga) voer.
‘n Soortgelyke optog word in Kaapstad beplan, het Mthandeki Nhlapo, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse werkersunie (Samwu), Dinsdag gesê.
Stakers het Maandag in verskeie dele van die land straatverkopers geteister, asblikke in die straat uitgegooi en Suid-Afrikaners met minimale dienslewering gelaat.
Vakbonde wat die 150 000 lede verteenwoordig, het ‘n lang lys van vereistes en sê dat werknemers sukkel om kop bo water te hou met inflasie wat verlede jaar 13.7% bereik het.
Drie mense is in Limpopo beseer nadat die polisie rubber koeëls na onordelike stakers geskiet het, het Limpopo polisie gesê.
Essensiële dienste in Durban is egter nie deur die eerste dag van stakings beïnvloed nie, het die stadsbestuurder van die eThekwini-metroraad, Dr. Mike Sutcliffe, Dinsdag gesê.
Volgens Sutcliffe is geen gevalle van intimidasie of onderbreking van dienste Maandag aangemeld nie.
Intussen het Imatu die geweld wat tydens die stakings uitgebreek het in sekere dele van die land ten sterkste veroordeel.
- SAPA