Mulder vat Zuma aan oor grond
2012-02-16 08:10
Kaapstad – Die probleem met grondhervorming is nie die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper nie, maar eerder die “rampspoedige” manier waarop dit toegepas word.
Só het dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ en adjunkminister van landbou, waterwese en vissery, Woensdag vir pres. Jacob Zuma aangevat in die debat oor die president se staatsrede.
“Op my lessenaar is talle briewe van wit kommersiële boere wat hul grond aan die departement aangebied het, maar geen reaksie ontvang het nie... talle briewe van kommersiële boere wat koopkontrakte met die departement gesluit het en ná drie jaar bankrot gaan omdat die departement nie die geld uitbetaal nie.”
Mulder het die stelling verwerp dat wit mense al die grond wat hulle besit, gesteel het. Sulke stellings moedig volgens hom plaasmoorde aan.
Hy het verskil van Zuma se stelling dat slegs 8% grond aan swart mense oorgedra is. Zuma het in sy staatsrede gesê daar is “algemene instemming” dat die beginsel van gewillige koper, gewillige verkoper nie werk nie, en daarom is slegs 8% bereik van die teiken om 30% van die grond teen 2014 oor te dra.
Mulder het dit as propaganda-syfers beskryf. “In eenvoudige taal beteken dit dat die regering in die nasionalisering van landbougrond glo.”
Mulder het bygevoeg dat Afrikane nooit dwarsoor Suid-Afrika gewoon het nie, en het LP’s genooi om die dagboeke van die Voortrekkers te gaan lees oor wat hulle gevind het toe hulle deur die binneland beweeg het.
“Die Bantoe-sprekende mense en die wit mense het mekaar by die Keirivier ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoe-sprekende mense in die Wes-Kaap en Noordwes-Kaap was nie. Dié dele maak 40% van Suid-Afrika se grondoppervlak uit.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger