Mseleku bedank voor kontrak verstryk
2009-09-20 15:09
Kaapstad - Thami Mseleku, direkteur-generaal van gesondheid, het minder as drie maande voor sy kontrak van vyf jaar sou verstryk bedank, het City Press Sondag berig.
Die koerant haal 'n anonieme bron in die departement aan wat sê Mseleku en minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het ooreengekom dat 30 September sy laaste werksdag sal wees.
Woordvoerder vir die gesondheidsdepartement, Fidel Radebe, was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.
Mseleku se termyn was nie sonder omstredenheid nie. Hy is gekritiseer vir swak administrasie en vir die feit dat hy glo provinsiale gesondheidsamptenare wou verhoed om oor MIV/Vigs-kwessies te praat.
City Press het Mark Heywood van die Aids Law Project aangehaal. Hy het gesê Mseleku se vertrek is 'n teken dat Motsoaledi "ernstig is daaroor om die gesondheidstelsel te verbeter".
- Sapa