Mpumalanga diere onder kwarantyn geplaas
2009-10-19 07:31
Johannesburg - Geen lewende hawe of diereprodukte mag sonder ’n permit uit die Laeveld geneem word nie.
Die Mpumalanga-regering het dié beperkings ingestel nadat ’n ernstige uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in die Nkomazi-gebied naby Komatipoort ontdek is.
Volgens dr. Ben du Plessis, provinsiale adjunkdirekteur van dieregesondheidsdienste, is die uitbreking se eerste tekens op 7 September aangemeld.
Dit is by dipbakke van die Mdluli-tradisionele owerheid ontdek.
“Binne ’n week het dit na die aangrensende Makoko-gebied versprei,” sê Du Plessis.
Sedertdien is daar ’n totale verbod op die beweging van spleethoewige diere soos beeste, skape en bokke.
“Tans wil dit lyk asof die siekte ook onder varke uitgebreek het.”
Beheermaatreëls sluit in veeartseny-padblokkades wat onder meer by die Nkomazi-tolhek tussen Malalane en Hectorspruit gehou word.
Die polisie, SANW en rampbestuurowerhede monitor ook diere en vleisprodukte se beweging.
“As die siekte, wat ’n hoogs aansteeklike virussiekte is, na ander dele van die land versprei, kan dit rampspoedige ekonomiese gevolge inhou,” se Du Plessis.
Volgens hom is die siekte nie aansteeklik vir mense nie, maar kan dit wel deur besoedelde hande, klerasie en toerusting oorgedra word.
Kenmerke van BKS-besmetting is blasies in die bek en op die pote van diere wat rou sere word as dit bars.
“Vee-eienaars sal die siekte ook uitken aan oormatige speekselvloei en diere wat moeilik loop en vreet.”
Alle gevalle van die siekte moet by die veeartseny-owerhede aangemeld word.
Navrae kan gerig word aan die Mpumalanga-dieregesondheidsafdeling by 013 741 3218.
- Beeld