Moyo, drie ander in hof
2011-12-13 12:43
Johannesburg – Bongani Moyo, wat in Augustus uit die Pretoria-streekhof ontsnap het, sal Dinsdag saam met drie ander in dieselfde hof verskyn.
Moyo en sy medepligtiges Leon Ncube, Thabani Sibanda en Khubulani Sibanda staar 'n reeks aanklagtes van gewapende roof in die gesig.
Moyo word ook met meer as 35 bankrooftogte en ander rooftogte verbind.
Hy het opspraak gemaak toe hy op 10 Augustus op krukke uit die Pretoria-streekhof gestap het.
Ten tyde van dié ‘ontsnapping’, was hy nie toegesluit of geboei nie. Hy is later op 28 Augustus in Hillbrow, Johannesburg gearresteer.
Dit is nie die eerste keer dat Moyo uit aanhouding ontsnap nie. Hy het in Maart uit die Boksburg-gevangenis ontsnap en is drie maande later weer aangekeer.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA