Motorwagte dalk aangekla oor dooie se Audi
2011-01-14 12:25
Kaapstad – Die ses motorwagte aan wie die ontslape eiendomsmagnaat Rob Taylor sy luukse motor gegee het, staar aanklagte van bedrog in die gesig omdat hulle die motor verkoop het.
Mediadekking van die multimiljoenêr se beweerde selfmoord het die Audi R8 V10 wat hy as geskenk aan ses Kongolese motorwagte gegee het weer in die soeklig geplaas.
Die wagte het in Julie verlede jaar die motor vir R1,25 miljoen aan die Audi-sentrum in Kaapstad verkoop en Terrence Aupiais, 'n sakekollega van Taylor, het aanklagte van bedrog teen hulle aanhangig gemaak, het die polisie gesê.
Die ses mans het sedertdien uit die land gevlug.
Taylor en die ses mans het glo ooreengekom dat die Audi gebruik sal word om geld vir minderbevoorregte mense in te samel en nie verkoop sal word nie.
Aupiais betwis die geldigheid van die verkoop van die motor op grond daarvan dat die motor die eiendom is van die Angels Way Trust, waarvan hy die enigste trustee is.
Die Audi-sentrum sal dié bewerings in Mei in die Wes-Kaapse hooggeregshof teenstaan.
Aupiais voer in hofstukke aan dat Taylor die Audi R8V10 namens die trust gekoop het.
Taylor se lyk is Sondagaand op Tafelberg gevind.
Lees meer hier
Volg nuus24 op Twitter