Motoriste toets self of hul nugter is
2009-12-07 07:40
Carina van Wyk
Johannesburg - Motoriste gaan dalk dié feestyd self kan vasstel of hulle ’n glasie te veel gedrink het.
Die departement van vervoer is betrokke by samesprekings met vervaardigers om weggooibare alkohol-asemtoetsers by Engen-vulstasies landwyd beskikbaar te stel, het Logan Maistry, woordvoerder van S’bu Ndebele, minister van vervoer, gesê.
Hy kon nie presies sê wanneer dit beskikbaar gaan wees of wat dit gaan kos nie.
Die departement hoop dit sal gereed wees vir die komende vakansie en dat dit later ook by ander plekke beskikbaar sal wees.
Ndebele het gister die vervoerdepartement se padveiligheidsveldtog vir die Kerstyd by Orange Farm in die suide van Johannesburg bekendgestel.
Hy het gesê verkeersowerhede landwyd wil in Desember en Januarie 1 miljoen motoriste van die pad aftrek en hul voertuie nagaan.
Ndebele het gesê daar gaan gefokus word op dronk voetgangers en motoriste, voetgangers op hoofweë, spoedoortredings, onveilige verbysteek, die gebruik van selfone terwyl motoriste bestuur, voertuie (veral busse en taxi’s) se padwaardigheid en die dra van sitplekgordels.
“Alle openbare vervoeroperateurs en -bestuurders moet seker maak hul voertuie is padwaardig en dat hulle nie die lewens van pendelaars in gevaar stel nie.
“Ons raai alle motoriste aan om elke twee uur of 200km stil te hou en te rus.”