Motoriste 'gehoorsaam steeds nie reëls'
2012-01-10 18:58
Kaapstad – Nie genoeg motoriste het al die morele keuse gemaak om nugter te bestuur, spoedbeperkings te gehoorsaam en hul sitplekgordels te dra nie, het die Wes-Kaapse LUR vir vervoer, Robin Carlisle, Dinsdag gesê.
“Wat vir ons ‘n groot bekommernis is, is die feit dat soveel onskuldige mense steeds op ons paaie sterf – 64 van die 163 mense wat hierdie feesseisoen op ons paaie gesterf het, was passasiers,” het Carlisle gesê.
Hy het gesê 25 mense wat gesterf het, was bestuurders en 62 was voetgangers. Vyf fietsryers en sewe motorfietsryers het ook gesterf.
“Soos wat alle motoriste natuurlik nie as oortreders beskou kan word nie, so is baie voetgangers dood toe hulle snelweë en ander paaie onwettig oorgesteek het.”
Die departement het gesê daar was ‘n afname van 12 persent in sterftes, vergeleke met die vorige feesseisoen.
“Hulde moet gebring word aan ons toegewyde wetstoepassers en die toenemende getal motoriste wat die morele besluit neem om veilig te bestuur.”
Altesaam 1 324 mense is in 2011 op Wes-Kaapse paaie dood, vergeleke met 1 487 in 2010 – ‘n afname van 11 persent.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA