Motoris takel parkeerbeampte oor R2,50
2012-09-07 23:00
Kaapstad – Die bestuuder van 'n BMW het na bewering 'n vroulike parkeerbeampte aangerand nadat hy geweier het om 'n parkeerfooi van R2,50 te betaal, het die stad Vrydag gesê.
Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, het in 'n verklaring gesê die man het die vrou, wat deur die stad se diensverskaffer Street Parking Solutions aangestel is, uitgevloek voor hy haar geklap het.
"Toe hy uit sy voertuig klim, het die parkeerbeampte hom ingelig van sy verpligting om die R2,50, ingevolge die stad se verordening op parkering, te betaal."
Die motoris in die wit BMW het geweier en gesê hy gaan net iets aflaai.
"Toe hy na die motor terugkeer, het die parkeerbeampte weer die handtoestel, met die bedrag wat hy skuld, aan hom gewys," het Herron gesê.
"Die motoris het toe die handtoestel uit die parkeerbeampte se hand gestamp. Die toestel is beskadig."
Herron het gesê die motoris het toe die vrou uitgevloek en haar rondgepluk voor hy haar geklap het.
Die bestuurder en daarna toe 15 minute lank in Laer-Langstraat geparkeer.
Herron het gesê die stad het verskeie klagtes ontvang van motoriste wat weier om vir parkering te betaal. Hy het gesê die verordening op parkering is baie belangrik omdat parkering gereguleer word om te verseker dat een voertuig nie heeldag op een plek parkeer nie.
Die vrou is aangeraai om 'n aanklag by die polisie aanhangig te maak.
Ao. November Filander, polisiewoordvoerder, het gesê hulle is nie bewus van die voorval nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA