Motorhuur kos jou dalk al meer as R6 m.
2011-07-06 08:12
Kaapstad. – Die geld wat ministers en hul adjunkte sedert Maart 2010 aan die huur van motors bestee het, kon die belastingbetaler meer as R6 miljoen gekos het.
So het Ian Ollis, DA-LP, Donderdag gesê nadat nóg twee lede van die uitvoerende gesag sy parlementêre vrae oor hul uitgawes aan huurmotors beantwoord het.
Vyf ministers en een adjunkminister het tot dusver terugvoering gegee oor hul huurmotor-uitgawes, wat in dié stadium op meer as R1,1 miljoen staan.
“Dit behels ’n gemiddeld van R183 000 per minister. Dit kan uiteindelik meer as R6?miljoen wees as al 34 ministers aan wie ek die vrae gestel het, antwoord,” het Ollis by navraag gesê.
Luidens die jongste antwoord het Marthinus van Schalkwyk, minister van toerisme, en sy adjunk, Thobile Xasa, sedert Maart 2010 altesaam R310 888 aan huurmotors bestee.
Dit is Xasa wat vir die leeue-aandeel van dié uitgawe verantwoordelik is.
Sy het boonop R93 000 aan huurmotors bestee om haar kiesafdeling in King William’s Town in die Oos-Kaap te besoek.
Volgens Xasa se woordvoerder, Sanki Lerefolo, reis Xasa per vliegtuig na Oos-Londen, waar sy dan ’n motor huur om die sowat 43 km af te lê na King William’s Town.
Ollis het gesê kiesafdeling-werk is ’n partypolitieke funksie: “Die ANC (Xasa is ’n ANC-LP) behoort daarvoor te betaal, nie die belastingbetaler nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter