Motordiewe vas wat nie kon bestuur nie
2011-05-12 22:59
Johannesburg - Twee mense is in Rembrand Park in hegtenis geneem nadat hulle die motor wat hulle gesteel het moes verlaat, aangesien nie een van hulle kan bestuur nie, het die polisie in Sandringham, Johannesburg, Donderdag gesê.
“Volgens die bestuurder van die motor was dit duidelik dat die verdagtes nie daartoe in staat was om te bestuur nie, aangesien hulle die voertuig by Georgelaan gelos het en te voet gevlug het,” het konst. Neria Malefetse in ‘n verklaring gesê.
Die voertuig het aan ‘n wynmaatskappy wat aflewerings in die gebied doen, behoort.
Die bestuurder was besig om aflewerings in Curriestraat te doen toe twee mense by die voertuig ingespring en weggery het.
Die bestuurder en ‘n inwoner het hulle agternagesit.
Toe die twee diewe opgegee het om te probeer bestuur en weggehardloop het, het die bestuurder en die inwoner hulle ingehaal.
Nie die voertuig of die inhoud daarvan is beskadig nie.
‘n 16-jarige man en ‘n 28-jarige man sal eersdaags in die hof verskyn, het Malefetse gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA