Motordiewe vas ná jaagtog
2010-03-09 15:08
Johannesburg – Twee vermeende motordiewe is Dinsdag in Soweto in hegtenis geneem ná ‘n hoë-spoed jaagtog, het die polisie in Johannesburg gesê.
Die twee mans was in ‘n motor wat hulle na bewering pas by ‘n huis in Fairlands gesteel het, toe hulle deur ‘n satelliet-opsporingsmaatskappy in Nasrecstraat vasgetrek is, het kapt. Katlego Mokgale gesê.
“Hulle is van die pad afgetrek en in hegtenis geneem.”
Die mans, wat 30 en 32 jaar oud is, het reeds die blou Citi Golf se paneelinstrumentebord oopgebreek in ‘n poging om die opsporingstoestel te vind.
Niemand is in die voorval beseer nie.
Die mans sal binnekort in die Protea-landdroshof verskyn op aanklagte van motordiefstal.
- Sapa