Motor ondersoek ná kleuter verbrand
2009-09-04 07:00
Nurene Jassiem
Kaapstad - Die dogter van die man wat Suid-Afrikaners geleer het om vir hulself te lag met sy eiesoortige T-hemde is vandeesweek dood toe sy in hul gesinsmotor verbrand het.
Justin Nurse, eienaar van Laugh it Off (LiO), se dogter Vanilla (2) is Woensdagmiddag onderweg na ’n plaaslike hospitaal in Vishoek dood.
Volgens insp. November Filander, ’n polisiewoordvoerder, het Nurse se vrou, Camilla, en Vanilla inkopies gaan doen kort voor die voorval omstreeks 14:00 voor hul huis plaasgevind het.
“Nurse het van die inkopies by die huis ingedra en Vanilla in die motor gelos. Sy het kort daarna die motoralarm hoor afgaan, by die huis uitgehardloop en die gesin se Honda Jazz in vlamme gesien,” het Filander gesê.
Mev. Nurse het die kind uit die motor probeer haal en het geringe brandwonde opgedoen.
Vanilla is op pad hospitaal toe dood, terwyl haar ma met brandwonde in ’n plaaslike hospitaal opgeneem is.
Bryce Hepburn, Nurse se sakevennoot en familievriend, het Vanilla gister as “die mooiste, beeldskoonste meisie” beskryf.
“Camilla is uit die hospitaal ontslaan en herstel tans by die huis. In hierdie stadium antwoord Justin nie sy foon nie omdat die skok nog te erg is,” het hy gesê.
“Ek dink almal is so geskok soos ons oor wat gebeur het,” het hy gesê. Die egpaar het nog ’n dogter, Willow.
Nurse was in 2005 in die nuus toe hy ’n hofsaak teen die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) gewen het oor die woorde “Black Labour, White Guilt”wat hy met die Black Label-logo op ’n T-hemp van sy korporasie verkoop het.
Joeline Dabrowski, woordvoerder van Honda, het gister gesê hulle dra kennis van die voorval. Volgens hul kennis was daar nog nie voorheen só ’n voorval met ’n Honda nie.
Yoshiaki Nakamura, besturende direkteur van Honda Suid-Afrika, het gesê: “Ons is baie hartseer oor die tragiese dood van Nurse se dogter sowel as die beserings wat sy vrou opgedoen het.
“Ons onderneem om ons volle samewerking te gee aan die aangestelde forensiese span om die oorsaak van die tragedie vas te stel.”
Die polisie het op die voertuig beslag gelê en forensiese toetse sal gedoen word.
- Die Burger