Motor met antwoordstelle brand uit
2010-11-12 09:06
Die Burger
Kaapstad - Verskeie Wes-Kaapse matrieks se eksamen-antwoordstelle het Donderdag in die nadraai van betogings wat in Khayelitsha verwoesting gesaai het, uitgebrand.
Die antwoordstelle, van vermoedelik Donderdag se Engels-vraestel, is in ’n staatsvoertuig van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) vervoer.
Die voertuig is glo deur oproerige betogers omsingel, waarna die amptenare wat oor die vraestelle moes waak summier uitgepluk is.
Die voertuig is daarna aan die brand gesteek, het Brian Schreuder, kurrikulumhoof van die WKOD, Donderdagmiddag gesê.
Schreuder wou nie bevestig hoeveel antwoordstelle verwoes is of watter vakke ter sprake is nie.
Die antwoordstelle van vier verskillende skole moes na ’n versamelpunt geneem word, waar dit as deel van die WKOD se eksamenplan voorlopig gemerk sou word om deel te vorm van ’n nasionale puntebespreking.
Schreuder het gesê die onderwysdepartement sal die betrokke skole oor die situasie inlig sodra die ondersoek afgehandel is.
Die slegte nuus vir die matrieks wat hierdeur geraak word, is dat hul punte vir dié bepaalde vakke nou volgens ’n nasionale formule bereken gaan word.
Die leerders sal die eksamens in Februarie moet herhaal indien hulle nie met die uitslae tevrede is nie.
Onrustigheid in die Khayelitsha-gemeenskap het reeds Woensdagaand begin broei.
Donderdagoggend het die gewelddadigheid van die betogings oor dienslewering uitgekring en een na die ander voertuig in Mewweg is aan die brand gesteek.
Drie voertuie het op dié manier in die slag gebly.
Die ANC-jeugliga is Donderdag in ’n verklaring van die Abahlali baseMjondolo-drukgroep beskuldig dat hy die oproerigheid aangehits het.
“Die ANC-jeugliga probeer die mag uit die hande van die DA terugwen deur voor te gee hy help die armes in die provinsie,” het Mzonke Poni, voorsitter van Abahlali, beweer.
“Ons verag die optrede,” het hy gesê.
Die jeugliga kon nie met die druktyd in die hande gekry word om kommentaar te lewer nie.
- Die Burger