'Motlanthe sal binne 5 j. by Zuma oorneem'
2011-07-22 08:00
Kaapstad – Adj.pres. Kgalema Motlanthe sal oor vyf jaar die leisels by pres. Jacob Zuma as staatshoof oorgeneem het.
Dít is die voorspelling wat dr. Adekeye Adebajo, uitvoerende hoof van die Sentrum vir Konflik-resolusie en ’n deskundige op die gebied van Afrika-politiek, Donderdag hier gewaag het.
Adebajo, ’n Nigeriër en die skrywer van die boek The Curse of Berlin: Africa After the Cold War, was Donderdag die genooide spreker op ’n byeenkoms van die Kaapse Persklub in Observatory.
In vraetyd is Adebajo gevra om ’n paar voorspellings te maak oor lande in Afrika, waaronder Suid-Afrika.
Hy het geantwoord dat hy voorsien dat Julius Malema, ANC-jeugleier, se vlerke ietwat geknip sal word, maar dat die protesoptogte teen swak dienslewering en die rasseverdeling waarmee Suid-Afrika tans te kampe het, sal voortduur.
Volgens hom sal die Suid-Afrikaanse regering oor vyf jaar in ’n groter mate by die ekonomie ingegryp het, terwyl die land steeds Afrika se leier op ekonomiese gebied sal wees. “Maar met sterk mededinging van Nigerië.
“Nigerië sal Suid-Afrika egter nie sommer verbysteek nie omdat hy steeds moeilikheid met opstande in sy olieproduserende gebiede sal hê.”
’n Ander lid van die gehoor wou by Adebajo weet of hy dink die drieparty-alliansie van die ANC, SAKP en Cosatu sal binnekort uitmekaarval.
“Nie gou nie,” het hy gesê. “Die ANC se alliansievennote (Cosatu en die SAKP) het nêrens om heen te gaan nie.
“In Zimbabwe het dit die vakbonde 20 jaar geneem om op hul eie te gaan, en ek voorsien in Suid-Afrika sal dit selfs langer duur.”
Wat ander Afrika-lande betref, voorspel hy dat pres.Robert Mugabe van Zimbabwe binne vyf jaar oorlede sal wees, maar dat dit nie die einde van die uittog van Zimbabwiërs na ander Afrika-lande sal beteken nie.
Volgens hom sal die Libiese leier, kol. Muammar Gaddafi, oor vyf jaar ook nie meer in dié land aan die bewind wees nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger