Motlanthe lag bewerings van bedanking af
2012-12-20 14:47
Mangaung – Die ANC het Donderdag die toekoms van adjunk-president Kgalema Motlanthe bespreek nadat pres. Jacob Zuma bo hom verkies is as president van die party, berig Eyewitness News.
Motlanthe het 'n benoeming om die party se nasionale uitvoerende komitee te dien, van die hand gewys.
Die ANC se topleiers het 'n mediakonferensie gehou, waar Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, die berigte bespreek het.
Gerugte het die ronde gedoen dat die nuutverkose adjunk-president, Cyril Ramaphosa, die rol van eerste minister sal aanneem.
Dít het nóg vrae laat ontstaan oor of Motlanthe as adjunk-president van die land gaan bedank.
Mantashe het dit duidelik gestel dat die ANC nie vir Ramaphosa aangestel het om Zuma se eerste minister te word nie.
"Die adjunk-president is die hoof van regeringsake, en dus 'n de facto eerste minister. So die debat oor die aanstelling van 'n eerste minister is dood."
Die ANC se nasionale woordvoerder, Jackson Mthembu, het gesê hy het met Motlanthe gepraat oor die kwessie van sy bedanking.
"Motlanthe het net gelag en gesê: 'waar kom hulle aan die stories?' Ek weet nie waar kom die media aan die stories nie, maar die adjunk-president is 'n lojale em gedissiplineerde lid van die ANC."
Mantashe het gesê daar is nie 'n reël in die ANC wat sê die adjunk-president van die party moet dié van die land wees nie, so dit is nie nodig vir Motlanthe om te bedank nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter