Motlanthe kap ANC in nuwe boek
2012-10-05 12:17
Johannesburg – Adj.pres. Kgalema Motlanthe se nuwe biografie onthul hoe hy oor die ANC en sy leierskap voel, het die Mail & Guardian Vrydag berig.
In die boek, wat deur Ebrahim Harvey geskryf is, beskryf Motlanthe sy ongelukkigheid oor hoe die party se huidige leierskap dienslewering hanteer, die misbruik van staatshulpbronne en die stand van sake in die ANC.
Kgalema Motlanthe: A Political Biography sal op 11 Oktober in Johannesburg vrygestel word.
Motlanthe kap ook die ANC se leiers oor die skorsing van Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga.
"Kgalema se hoop vir die nuwe Zuma-termyn is op verskeie maniere 'n slag toegedien, maar hy distansieer hom nie van die probleme nie. Die situasie vir die arm-meerderheid, verhoudings tussen die ANC en sy bondgenote en die stand van sake in die ANC is in geheel net soos dit was onder [die leierskap van] Thabo Mbeki."
Motlanthe het bespiegelings verwerp dat hy hom nie verkiesbaar gaan stel vir die ANC se toppos indien pres. Jacob Zuma homself weer verkiesbaar stel nie. Hy het gesê niemand het hom nog genader nie.
"My standpunt is dat niemand vir hulself stemme moet werf in aanloop tot die verkiesing nie," het Motlanthe in die boek gesê.
"Die takke moet daaroor besluit, maar indien ek genomineer word vir so 'n posisie, sal ek dit of aanvaar of afkeur."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA