Motlanthe in die pekel ná plaasaanval-uitlatings
2009-12-02 11:40
Sarel van der Walt
Pretoria – Die landbou-organisasie TLU SA het ’n klag teen adj.pres. Kgalema Motlanthe by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien.
Dit volg nadat hy glo gesê het talle plaasaanvalle is die gevolg van gebelgde buitelandse werkers wat nie deur boere betaal word nie, en dat die polisie kort voor betaaldag ingeroep word om werkers aan te keer.
Ben Marais, president van TLU SA, het gesê Motlanthe se standpunt is nie op bewese feite gegrond nie. Dit skep ’n klimaat vir meer aanvalle op boere, hul gesinne en werkers.
“Die databasis tot TLU SA se beskikking dui daarop dat die gearresteerdes selde bekend is aan die slagoffers en dat vreemdelinge talle onskuldige slagoffers aanval,” het Marais gesê.
Die presidensie het nie op navrae gereageer nie.
- Die Burger