Motief vir moord op Jub Jub-polisieman onbekend
2011-12-08 08:02
Johannesburg – Die motief vir die moord op 'n ondersoekbeampte in die Molemo "Jub Jub" Maarohanye-moordverhoor is nie bekend nie, het die polisie in Gauteng Donderdag gesê.
"Niemand is in hegtenis geneem nie en die motief is nie bekend nie," het lt.kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
Maj. Moses Segapho (54) is Dinsdagaand in die Angola-plakkerskamp in Kliptown, Soweto, doodgeskiet.
Segapho was besig met 'n polisieondersoek toe twee mans hom geskiet het toe hy uit die voertuig klim. Die mans het toe weggehardloop.
Hy was die ondersoekbeampte in die moordverhoor van Maarohanye en Themba Tshabalala.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op vier aanklagte moord nadat hulle glo verlede jaar teen 'n groep skoolkinders, wat op pad huis toe was, gebots het.
Twee van die kinders het ernstige beserings, insluitend breinskade, opgedoen.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op 10 aanklagte, insluitend moord en bestuur onder die invloed van dwelms.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA