Koerant ontmoet Moslems ná spotprent-herrie
2010-05-24 09:12
Anesca Smith
Kaapstad - Die redakteur van die Mail & Guardian vergader Maandag met Moslem-groepe nadat dié weekblad se omstrede spotprent oor die profeet Mohammed die naweek woede ontlok en internasionaal opslae gemaak het.
“Dit is duidelik dat mense ontsteld is, en ons wil graag na hul standpunte luister en ons eie oordra,” het Nic Dawes, die redakteur, gister gesê.
Dawes en die polisie het berigte dat die herrie kan lei tot vrese oor veiligheid by aanstaande maand se Wêreldbeker-sokkertoernooi, verwerp. Nagenoeg 300 000 besoekers word verwag.
Die spotprent, deur die bekroonde kunstenaar Zapiro (Jonathan Shapiro), toon die profeet Mohammed wat in die hemel by ’n sielkundige kla: “Al die ander profete se volgelinge het ’n sin vir humor.”
Die spotprent is gepubliseer dae nadat ’n vermeende Al-Kaïda-lid in Irak aangekeer is op klagte van terreur – insluitend ’n sameswering om hom op die sokkertoernooi toe te spits uit weerwraak oor ’n reeks spotprente oor Mohammed wat ’n paar jaar gelede in ’n Deense koerant gepubliseer is.
Dawes het Sondag egter aan Die Burger gesê: “Daar is geen gronde om te glo dat Moslems met geweld reageer op elke uitdaging nie.”
Hy vergader vanmiddag met lede van die Raad vir Moslem Teoloë, wat verlede Donderdagaand ’n interdik teen die koerant probeer verkry het om te verhinder dat hy die spotprent Vrydag publiseer. Dit is egter deur die Suid-Gautengse hooggeregshof geweier.
Die Moslem Juridiese Raad (MJR) gaan glo ook die vergadering in Johannesburg bywoon.
Die organisasie het in ’n verklaring sy lede gevra om hul afkeur van die spotprent op ’n “verantwoordelike wyse” uit te druk.
Volgens Dawes het hy reaksie verwag, maar nie dat die blad hof toe gesleep sou word nie.
Die storie het ook die internasionale media se ore bereik.
CNN het onder meer berig oor nuwe vrese vir weerwraakaanvalle in die aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Amerika se adjunkpresident, Joe Biden, is onder die hoë gaste wat verwag word. Dit is nog onseker of pres. Barack Obama sy opwagting hier gaan maak.
Zapiro het die prent geteken as kommentaar op wêreldwye protes deur Moslems teen ’n Facebook-groep wat verlede Donderdag tot “Everybody Draw Mohammed Day” verklaar het.
- Die Burger
- Die Burger