Moslem-moord: Mans kry nie borgtog
2012-08-13 13:30
Johannesburg – Die twee mans wat daarvan aangekla is dat hulle ‘n Moslem-man aangerand het, het Maandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn.
Die Moslem-man, wat erg aangerand was, het later aan sy beserings beswyk.
Die mans, wat aangekla is van moord en aanranding, is borgtog geweier en die saak is tot 21 Augustus uitgestel.
Familielede, die publiek en lede van die media is toegang tot die hofsaal geweier.
“Ons is toegang geweier as gevolg van regsprosedures... ‘n uitkenningsparade moet nog vir die twee beskuldigdes gehou word,” het Iqbal Jassad, ‘n lid van die pro-Moslemgroep Media Review Network, gesê.
Die twee mans word daarvan beskuldig dat hulle die 27-jarige Muhammad Fayaaz Kazi verlede Maandag buite ‘n Chicken Licken-winkel in Magaliesburg vermoor het en sy goeie vriend Anser Mahmood aangerand het.
Die mans het Kazi gespot oor sy baard en het hom beledig toe hy hulle gekonfronteer het. ‘n Geveg het toe uitgebreek.
Kazi het Dinsdag weens sy beserings in die hospitaal gesterf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA