Mosie van wantroue teen Zuma ingedien
2012-11-08 14:41
Kaapstad – Opposisiepartye sal Donderdagmiddag 'n mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma indien, berig Mail & Guardian.
Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, sal die mosie namens die opposisiepartye, insluitend die African Christian Democratic Party, Azanian People's Organisation, Congress of the People, die Vryheidsfront Plus en die Inkatha Vryheidsparty, aan die Nasionale Vergadering (NV) voorhou.
Redes wat vir dié besluit aangevoer is, sluit ondermeer in die Marikana-slagting, die skandaal oor die president se private woning in Nkandla, sowel as die handboek-sage in Limpopo en die Oos-Kaap.
Die groep het ‘n lys saamgestel wat in die NV voorgehou sal word. Dit sluit in die Nkandla-skandaal, die verswakte regstelsel, die afwaartse aanpassing van die land se kredietgradering, en die toenemende probleem met werkloosheid in die land, het Die Burger berig.
"President Zuma het nie meer die vertroue van ons politieke partye om as president te dien nie," het die partye Donderdag in 'n gesamentlike verklaring gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter